Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 5 NOVEMBER 2017

Goeie môre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS0JPL.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

DIE PEARS HF DX KOMPETISIE VANMIDDAG

RADIO ZS REDAKTEUR BENODIG DRINGEND ANTENNA ONTWERP ARTIKELS

en

BEWEEG WÊRELDWYE DX NA MIKROGOLF AMA?

Bly gerus ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

DIE PEARS HF DX KOMPETISIE VANMIDDAG

Die doel van die PEARS HF DX Kompetisie is om Suid-Afrikaanse radio amateurs aan te moedig om DX te werk en vind vanmiddag van 12:00 tot 16:00 UTC plaas. Jy kan ESB, Gelykgolf, PSK, RTD en JT65 op 20, 15 en 10 meter gebruik. Jy kan deelneem as 'n enkel operateur - basis of veldstasie of 'n multi-operateur - basis of veldstasie. Stasies mag die maksimum krag wat toegelaat word volgens die regulasies in die land gebruik. Die uitruiling is jou roepsein en 'n RS- of RST-verslag.

Een punt word verdien vir elke QSO. 'n Stasie kan een keer op elke kompetisie band gekontak word. Veldstasies moet hul telling vermenigvuldig met twee (2) en 'n verdere vermenigvuldiger van twee (2) is beskikbaar as die stasie 'n nie-wins-antenna gebruik met verwysing na 'n dipool. Dan word die telling vermenigvuldig met die aantal lande wat gekontak word. Indien meer as drie logstate per kategorie ontvang word, sal 'n sertifikaat in elke kategorie aan die wenner toegeken word. Logstate moet teen 20 November 2017 aan die Port Elizabeth Amateurradiovereniging, Posbus 10402, Linton Grange, Port Elizabeth, 6015 gepos word of per e-pos aan contest@peham.co.za ingedien word. Geen laat logstate sal oorweeg word nie.

RADIO ZS REDAKTEUR BENODIG DRINGEND ANTENNA ONTWERP ARTIKELS

Dennis, ZS4BS het die antenna ontwerp artikels wat vir die Radio ZS Antenna Ontwerpkompetisie ingedien is, verloor na 'n probleem op die hardeskyf van sy skootrekenaar. Die enigste inskrywing wat hy het, is die een wat per pos ingedien is.

Lede wat antenna artikels ingedien het, Dennis onthou dat ZS6BNE, ZS4CGR, ZS2U, ZS5U, en ZS6TVB ingedien het, daar was meer, moet ASSEBLIEF weer hul antenna-ontwerp artikel na radiozs@sarl.org.za teen Vrydag 17 November 2017 stuur.

MULTI-JAAR LISENSIES

OKOSA het die Liga in kennis gestel dat hulle sowat 1 400 multi-jaar amateur radio lisensies gedruk het. Dit sal teen die einde van volgende week gepos word. Indien jy vir ‘n multi-jaar lisensie betaal het, wees asseblief op die uitkyk daarvoor in die pos. Laat asseblief ten minste twee weke toe vir pos aflewering.

SDR WERKSWINKEL IN GAUTENG OP 18 NOVEMBER

Die SARL en AMSAT SA het weereens kragte saamgespan om nog ‘n werkswinkel in die SDR reeks aan te bied. Dit vind plaas by die NARS op Saterdag 18 November 2017. Die agenda sluit in: Terugvoer op die HF RF Geraasvlak monitering projek bespreking by die IARU Streek 1 Konferensie, die pad vorentoe in die SARL se Geraasvlak monitering projek insluitend die verkiesing van ‘n stuurkomitee, praktiese demonstrasie oor hoe om ‘n monitering stelsel op te stel op ‘n Raspberry Pi en ‘n skootrekenaar, satelliet opsporing, ontvang van weersatelliete deur ‘n dongel, aflaai en verwerking van weër beelde en die aflaai en werk met FunCube telemetrie. Vir besprekings besonderhede, sagteware en dongels besoek gerus www.amsatsa.org.za

NUWE RADIO FREKWENSIE PLAN STEEDS WEERHOU DEUR DIE MINISTERIE

Die toekenning vir toegang tot die deel van die 5 MHz amateur sekondêre toekenning soos by WRC-15 toegestaan is, is bevat in die hersiene band plan wat deur OKOSA aan die Minister van Telekommunikasie en Posdienste (DTPS) voorgelê is vir goedkeuring. In Junie vanjaar het die Minister ‘n verklaring uitgereik waarin die Kabinet die plan goedgekeur het, maar ‘n paar dae later is die goedkeuring gekanselleer en OKOSA is aangesê om die publikasie te staak totdat seker aspekte van die plan deur DTPS en OKOSA bespreek is. Geen besonderhede is beskikbaar nie, maar die SARL het deur sommige media bronne verneem dat dit handel oor kwessies aangaande die toekenning van frekwensies vir breëband dienste.

Die Minister, deur sy woordvoerder, is versoek om die oponthoud rondom die vrystelling van die band plan uit te klaar. Dit is ook voorgestel aan die Minister om die deel van die plan wat nie deur die verskil tussen OKOSA en DTPS geraak word nie, soos amateur radio, vry te stel. Donderdag het die DTPS Minister se woordvoerder die SARL laat weet dat die Ministerie binne die volgende paar dae die oponthoud sal uitklaar.

Onlangs het die DTPS Minister ‘n verklaring uitgereik dat 9 konsepwetsontwerpe rondom kommunikasie vir openbare kommentaar gepubliseer sal word, verskeie nuwes en ook ‘n paar gewysigde wetsontwerpe. Die voorgestelde wetsontwerpe handel oor die stigting van ‘n Groothandel Vrye Toegang Netwerk (WOAN). Konsepwetsontwerpe van die nuwe en gewysigde wetsontwerpe word rondom middel November verwag. Die SARL sal die voorgestelde wetsontwerpe fyn monitor aangesien sommige amateur radio mag affekteer.

Jy luister na n nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga

BEWEEG WÊRELDWYE DX NA MIKROGOLF AMA?

Strydig met die mite dat mikrogolf toerusting te duur is, ontwikkel ‘n moderne neiging waar DX werking stadig verskuif na mikrogolf frekwensies waar daar reeds baie mikrogolf aktiwiteit is in die res van die wêreld. Hier is die hoofredes: In die vroeë jare het analoog AMA 1 kilowatt krag vereis op gelykgolf met duur, groot skottels op 2,3 GHz en 5,7 GHz soos deur wyle Ivo Chladek, ZS6AXT gebruik. HF DX werking hang af van toestande in die ionosfeer soos bepaal deur die Son en sonvlektelling tydens die Minimum Sonsiklus. AMA DX is daagliks moontlik solank beide verafgeleë stasies die Maan kan sien, tensy die Maan natuurlik te naby aan die Son is.

Toe die digitale era aangebreek het, het dinge begin verander op mikrogolf AMA. Hoë krag of groot skottels was nie meer ‘n vereiste nie. Byvoorbeeld Rex Moncur, VK7MO, het ‘n klein draagbare AMA stasie getoets op 10 GHz JT4, met ‘n 77-cm skottel gevoer met 45 Watt en het Charlie Suckling, G3WDG, gewerk oor ‘n afstand van 17 410 km. Toe het hy ‘n 47-cm skottel op 24 GHz probeer en W5LUA gehoor, maar laasgenoemde kon nie sy 4 Watt QRP sein ontvang nie. Op 5 Maart 2014, het VK7MO ‘n nuwe wêreld AMA rekord opgestel op 24 GHz met G3WDG. VK7MO het ‘n 1,14 meter skottel gebruik met 10 Watt en G3GWGB het ook 10 Watt gebruik met ‘n 3 meter skottel. Hul toerusting was GPS-vasgestel en kon ‘n wyer ossilasie hanteer wat op hierdie band versprei. Hierdie sal ook ‘n nuwe wêreld vir meenthuis AMA DX werking oopmaak!

Soos toekomstige aktiwiteit op die Mikrogolwe toeneem, so sal die vervaardigers begin dink om geskikte toerusting vir die amateur broederskap te vervaardig. Alhoewel hierdie land ver agter was in die digitale mikrogolf veld, het Alex Artieda, ZS6EME (HB9DRI), Suid Afrika weer teruggesit op die Mikrogolf Digitale Kaart. Hy het onlangs talle twee-rigting AMA kontakte met DX stasies op 10 GHz asook 5,7 GHz gemaak terwyl hy 50 Watt en ‘n 1,5 meter skottel gebruik het. Laas jaar het hy 2,3 GHz op digitaal gedek. Alex het ook ‘n omvattende artikel vir DUBUS, die Duitse Amateur radio BHF/UHF en Mikrogolf Tydskrif geskryf waarin hy beskryf hoe om 300 Watt uit ‘n paar MRF51P21180R6 LDMOS toestelle te kry op 13 cm (2,3 GHz).

STREEK 1 BHF KOMPETISIEGROEP

Tydens die 2017 IARU Streek 1 Algemene Konferensie het Komitee 5 'n nuwe Kompetisie Werkgroep geskep wat verantwoordelik is vir die organisasie van toekomstige streek 1 BHF en hoër kompetisies. Hierdie werkgroep is op soek na die menings van die deelnemers en/of kompetisie spanne wat hul logstate aan die kompetisie robot of aan die nasionale kompetisie bestuurder stuur. Hulle wil ook insette van die amateurs hê wat "punte weggee" en nie hul logstate inhandig nie. Dit is baie belangrik om die aktiwiteit op ons bande te verbeter, so dit sal goed wees indien soveel mense as moontlik hierdie opname beantwoord.

Om deel te neem aan die opname, wat ongeveer 15 minute neem, volg die skakel www.darc.de/referate/iaru/iaru-survey/. Die opname sluit op 30 November 2017.

VERBOD OP VERKOOP VAN TOERUSTING SONDER TIPE-GOEDKEURING

Die SARL is op die hoogste vlak betrokke met onderhandelings met OKOSA om hierdie kwessie op te los. Op 10 Oktober het die SARL ‘n amptelike klag gelê by die voorsitter van die OKOSA Raad asook die Hoof Uitvoerende Beampte en het laas week met ‘n aanmaning opgevolg. Donderdag 2 November is die gebrek aan vordering met een van die OKOSA Raadslede en ander senior amptenare bespreek wat onderneem het om die SARL klag met die betrokke amptenare op te neem. Op geen stadium word tuisgemaakte toerusting deur die verbod op die verkoop van amateur radio toerusting geraak nie. In ‘n onlangse publikasie in die Staatskoerant het OKOSA sy standpunt op Tipe Goedkeuring as volg gestel:

"Gebaseer op die Internasionale Maatstaf Studie, geskrewe en mondelinge verteenwoordiging deur aandeelhouers, het die Gesag die volgende standpunt ingeneem met betrekking tot die vrystelling van toerusting van Tipe Goedkeuring:

8.1. Geen vrystelling sal toegeken word op die grondslag van die tipe toerusting nie. Die Gesag beskou so ‘n vrystelling as voortydig op hierdie stadium en dit het die potensiaal om moontlik onomkeerbare onbedoelde gevolge op te lewer.

8.2. Die Gesag sal ‘n raamwerk ontwikkel vir die vrystelling van toerusting wat bedryf word onder die omstandighede ingesluit, maar nie beperk tot die wat in Tabel 1 gelys word."

Amateur radio is onder die kategorieë wat vir tipe vrystelling in aanmerking geneem word. Dit lees: "Amateur Radio Radiokommunikasie dienste met die doel van self-opleiding, interkommunikasie en tegniese ondersoeke uitgevoer deur amateurs op ‘n nie-kommersiële grondslag."

Die SARL OKOSA skakelings vergadering word later hierdie maand gehou. Hierdie items is ook op die agenda vir hierdie vergadering.

UITSLAE VAN DIE SARL 80 METER QSO GESELLIGHEID

Dit is n plesier vir die Durban ARK om die finale uitslae van die SARL 80 Meter QSO Geselligheid vir 2017 aan te kondig. Die uitslae van die tweede been wat in Oktober gehou is.

1ste Keverne Thurling, ZS1ABU - 600 punte
2de Pieter Jacobs, ZS6XT - 505 punte
3de Thanie Gibson, ZS4AZ - 510 punte

Baie geluk aan Keverne!

Die gekombineerde uitslae van die April en Oktober bene.
1ste Thanie Gibson, ZS4AZ - 1 090 punte
2de Woody Collet, ZS3WL - 805 punte
3de Barry Nugent, ZS2NF - 700 punte

Baie geluk aan Thanie, wat ook die eerste amateur is om meer as 1 000 punte in hierdie kompetisie te behaal. Wel gedaan!

ANTIEK DRAADLOOS VERENIGING BUIS QSO GESELLIGHEID UITSLAE

Die volgende is die uitslae van die Buis QSO Geselligheid van die Antieke Draadloos Vereniging gehou op 7 en 8 Oktober 2017.

AM
1ste Barrie Nugent, ZS2NF
Geen ander logstate is ontvang nie.

ESB
1ste Thanie Gibson, ZS4AZ
2de Theunis Potgieter, ZS2EC
3de Barrie Nugent, ZS2NF

Baie geluk aan hierdie stasies! Julle sertifikate sal binnekort in die pos wees.

OVERBERG AMATEURRADIOKLUB SE JAAREINDE FUNKSIE

Op 11 November hou die Overberg Amateurradioklub hul jaareinde funksie by Stanford. Hierdie sal weer die gewone bring en braai wees. Kole en slaaie sal beskikbaar wees en indien jy oornag wil kampeer, kan dit ook gereël word. Dit sal weer by die QTH van John en Judy wees en besoekers is welkom. Bring slegs jou eie vleis en wat ook al. Kontak Andre, ZS1AZ, op 072 729 1680 of 028 514 2018 vir meer besonderhede.

SEKUNDA AMATEURRADIOKLUB AJV

Op die AJV wat gehou is op 1 November 2017 is die volgende komitee lede verkies:

Voorsitter: Lucas Swart, ZS6ACT
Sekretaris, herhaler en tegnies: Detlev Hoffmann, ZS6BAB
Tesourier: Gert Botha, ZS6GC
Opleiding: Phillip O’Neil, ZS6PJO
Kompetisies: Christo Kriek, ZR6LJK
Projekte: Christo Kriek, ZR6LJK, Willie Taljaard, ZS6WBT en Cor Rademeyer, ZS6CR
Media skakeling: Elna Botha, ZS6EB

HF VOORTPLANTING VOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is tans geen sonvlekke sigbaar nie. Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Daar is selfs 'n moontlikheid vir 'n paar swak 10 m openinge. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Ten slotte, die dagboek van gebeure vir die volgende paar weke:

Vandag - die PEARS HF DX Kompetisie en Hamnet Gauteng Suid by die Tshwane Klassieke Tydren
11 November - Die Overberg Amateurradioklub jaareindfunksie in Stanford
18 November - die SDR-werkswinkel by die NARS; die AWA Ope-dag, Vlooimark en AJV, ook op 18 November, die Bo Karoo ARK AJV en ZS40VDK Bash
25 November - die SARL Newbie Naelloop en die Wesrandse vlooimark
25 en 26 November - die CQ WW DX Gelykgolf Kompetisie
1 Desember - die begin van die YOTA maand
3 Desember - die SARL Digitale Kompetisie

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoofberig:

Die doel van die PEARS HF DX Kompetisie is om Suid-Afrikaanse radio amateurs aan te moedig om DX te werk en vind vanmiddag van 12:00 tot 16:00 UTC plaas. Jy kan ESB, Gelykgolf, PSK, RTD en JT65 op 20, 15 en 10 meter gebruik. Jy kan deelneem as 'n enkel operateur - basis of veldstasie of 'n multi-operateur - basis of veldstasie. Stasies mag die maksimum krag wat toegelaat word volgens die regulasies in die land gebruik. Die uitruiling is jou roepsein en 'n RS- of RST-verslag.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 685 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou ‘n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003